Gesels met Ems
Ons Donau Winterboottoer
Tuis / Toere / BKERS27
BKERS27

Ons Donau Winterboottoer

9–19 Des 202711 daeDuitsland · Hongarye · Oostenryk
11dae op toer
3lande
8plekke op die roete
2toerleiers saam met jou
Die roete

Waarheen gaan ons?

Klik op enige nommer op die kaart om daardie dag se program te lees.

Dag tot dag

Die toerprogram

Ons vertrek vanaf O.R. Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg op ons vlug na München in Duitsland. 'n Beperkte aantal retoervlugte vanaf Kaapstad is op aanvraag beskikbaar.

Ons arriveer in München en vertrek dan met ons luukse bus na Nürnberg – bekend vir die eeue-oue houtbalke van vakwerkhuise wat stories vertel van ryk handelaars wat die fynste stowwe en lappe hierheen gebring het.

Ons hotel is lekker sentraal geleë en ons maak 'n draai by hierdie bekende en oudste Kersmark in Duitsland. Hier sien ons tradisionele handgemaakte Kersversierings en proe lekkernye soos gemmerkoek en Spekulatius-amandelkoekies.

Vanaand slaap ons in 'n pragtige hotel en geniet saam aandete as groep.

Ons geniet ontbyt in ons hotel waarna ons op 'n stadstoer van die mooie ou Nürnberg vertrek. Die stad se kasteel dateer uit ongeveer 1140 en vorm die begin (of einde) van Nürnberg se bekende historiese myl.

Hier sien ons pragtige kerke, indrukwekkende fonteine en die Tucherschlossmuseum. Nürnberg se geskiedenis vertel egter ook van moeiliker tye. Dit is immers hier waar die hoofoortreders van die Nazi-gruweldade in 1946 verhoor en skuldig bevind is.

Later vanmiddag gaan ons by Nürnberg se hawe aan boord van die Viva Enjoy, waar ons bootvaart begin.

Nürnberg, Duitsland & Viva Enjoy

Na 'n heerlike ontbyt aan boord, vaar ons na Regensburg. Hierdie stad se ryk geskiedenis en pragtige argitektuur sal jou asem wegslaan! Ons vaart neem ons tot by die Steinerne Brücke, 'n 12de-eeuse brug oor die Donau wat 'n ingenieurswonder van sy tyd was.

Die ou stad van Regensburg is een van Duitsland se besbewaarde middeleeuse stede met 'n ryk Romeinse geskiedenis. Ons besigtig die Regensburger Dom wat 'n gotiese meesterstuk en 'n belangrike landmerk van die stad is.

Ons groep onderneem ook 'n uitstappie per bus na die betowerende romantiese Regensburg Kersmark in die Tuin van Thurn en die Taxis-kasteel. Hier geniet ons die feestelike Kersatmosfeer, luister na die musiek, bewonder die handgemaakte produkte en proe van die heerlike plaaslike eetgoed.

Later keer ons terug na ons boot waar ons die aand oornag.

Ons geniet ontbyt terwyl ons verder op ons Donau Winterboottoer vaar en later by Passau se hawe vasmeer.

Passau staan bekend vir sy riviere, pragtige barok-argitektuur en die skilderagtige landskap. Hier vloei drie riviere saam – die Donau, Inn en Ilz. By die bekende Dreiflüsseeck (Drieriviere-hoek) kan ons selfs die verskillende kleure van die drie riviere sien waar hulle bymekaarkom.

Die St. Stephanskatedraal wat oorwegend wit aan die binnekant is met barok-stucco of gepleisterde figure en goudversierings is, word as een van die belangrikste barokkerke noord van die Alpe beskou. Dit huisves ook die grootste katedraal-orrel in die wêreld – met byna 18 000 pype.

Later keer ons terug na die boot waar ons saam aandete geniet.

Ons word wakker by die dorpie Linz en geniet ontbyt aan boord.

Daarna vertrek ons met 'n luukse bus, deur die pragtige Oostenrykse landskap, na Salzburg, die geboortestad van Mozart – 'n UNESCO-wêrelderfenisgebied.

Ons stap deur die bekende Getreidegasse, waar Mozart gebore is, en bewonder die Hohensalzburgvesting wat hoog bo die stad uittroon. Die smal stegies, gangetjies en historiese geboue gee aan Salzburg sy unieke atmosfeer.

Hierna geniet ons vrye tyd om self in 'n koffiewinkel te ontspan of sommer net die stad verder te verken.

Teen vanaand is ons weer terug aan boord van die Viva Enjoy om aandete te geniet.

Na ontbyt aan boord vaar ons na die Wachau-streek met sy wingerde, kasteelruïnes en romantiese dorpe. Later arriveer ons in die elegante stad Wene, die hoofstad van Oostenryk – bekend vir sy majestueuse argitektuur, klassieke musiek, kuns en koffiehuiskultuur.

Die res van die dag het ons vrye tyd om onsself in die prag van die historiese ou stad te verloor. Wene se artistieke en intellektuele siel is gevorm deur legendes soos Mozart, Beethoven en Sigmund Freud, en die spore van hul nalatenskap is oral te vinde. Verken die stad se keiserlike glorie by die manjifieke paleise, insluitend Schönbrunn, die beroemde somerwoning van die Habsburgers. Vir die kunsliefhebbers is die Museumkwartier 'n móét – hier kan jy die meesterlike werke van Egon Schiele, Gustav Klimt en vele ander wêreldklaskunstenaars bewonder.

Ons geniet 'n rit langs die beroemde Ringstrasse waar ons indrukwekkende geboue soos die Hofburgpaleis, die Nasionale Operahuis en die universiteit sien. Daarna stap ons deur die middestad waar ons die bekende St Stephanskatedraal bewonder.

Hierdie deel van die toer kombineer die natuurskoon van die Donau met Europa se ryk kultuurerfenis – 'n besonderse ervaring.

Ons geniet vir oulaas aandete aan boord van die Viva Enjoy.

Na ontbyt aan boord verlaat ons die Viva Enjoy en spandeer nog 'n paar uur in Wene voordat ons met ons luukse bus na Budapest vertrek. Hierdie stad, met sy indrukwekkende argitektuur, warmwaterbronne en ryk geskiedenis, is 'n besonderse belewenis.

Hier sien ons onder meer die indrukwekkende Parlementsgebou, die Buda-kasteel en die Vissersbastion.

Vanaand slaap ons in 'n vyfsterhotel naby die parlementsgebou. Elkeen ontvang subsidie van WinskoopToere af en is vry om op hul eie van die plaaslike Hongaarse kos te geniet.

Budapest bekoor ons behoorlik en ons geniet vandag 'n stadstoer onder leiding van 'n plaaslike gids. Ons besoek onder meer ook die interessante grotkerk en verken verskeie Kersmarkte waar ons steeds die feestelike atmosfeer beleef.

Teen sononder geniet ons nog 'n besondere hoogtepunt – 'n bootvaart op die Donau wanneer die stad se liggies begin skitter.

Vanaand eet ons vir oulaas saam aandete in ons hotel se eetkamer, waar jy kompleet voel asof jy Keiser Franz Joseph I en Keiserin Elisabeth (“Sisi”) se persoonlike gas is.

Ons geniet ons laaste paar uur in Budapest voordat ons na die lughawe vertrek. Gebruik hierdie tyd om nog inkopies te doen of sommer net die stad rustig te geniet.

Ons arriveer weer op die O.R. Tambo Internasionale Lughawe, verryk deur hierdie onvergeetlike winterboottoer op die Donau.

Teen wisselkoers van €1 = R19,00

Toerprys

Wat is ingesluit?

  • Ekonomieseklas-retoervliegkaartjie van Johannesburg na München en terug vanaf Budapest na Johannesburg. 'n Beperkte aantal retoervliegkaartjies vanaf Kaapstad is op aanvraag beskikbaar
  • Lughawebelasting – mag toeneem a.g.v. wisselkoersverandering (tans geen)
  • Gehalte verblyf (bed en buffetontbyt) in dubbel- of twinkamers, elk met eie badkamer – 'n viersterhotel in Nürnberg en in 'n vyfsterhotel (twee nagte) in Budapest
  • Aandetes soos gemeld in ons program of 'n subsidie van €20 p.p. vir aandetes wat nie as groep saamgeëet word nie
  • Privaat luukse bus vir die groep (met lugverkoeling en yskas) vir die duur van die toer op land, asook vir die groepsuitstappies tydens ons Viva Enjoy-vaart
  • Bootvaart vir vyf nagte op die Viva Enjoy
  • Gratis Wi-Fi
  • Fooitjies
  • Ontbyt-, middag- en aandetes, met verskeie gange, vanaf gourmet spyskaarte
  • Komplimentêre koue of warm nie-alkoholiese drankies
  • 'n Uitgesoekte verskeidenheid van alkoholiese drankies
  • 'n Luukse middagtee wat 'n verskeidenheid soet- en southappies en tee-opsies insluit
  • Mini-kroeg in die kajuit wat daagliks opgevul word
  • Twee ervare toerleiers vergesel die toer en neem met kundigheid en vriendelikheid die leiding. Wees ook gerus: Daar is dus altyd 'n ekstra persoon wat in geval van nood hulp kan verleen
  • Fooitjie vir die busbestuurder (€10 p.p. vir die toer)
  • Stadstoere onder leiding van plaaslike, Engelssprekende gidse in Nürnberg, Passau, Salzburg, Wene en Budapest
  • Gellértheuwel Grotkerk in Budapest
  • Bootvaart in Budapest
  • Op land: ALLE ONTBYTE EN AANDETES
  • Op die boot: ALLE ONTBYTE, MIDDAG- EN AANDETES, DRANKIES EN GESELLIGE VERMAAK
  • Visumkoste
  • Reisversekering (L.W.: Sommige reisversekeringsopsies vereis dat jy dit binne 24 of 48 uur nadat jy jou deposito aan WinskoopToere betaal het, moet aktiveer. Tree gerus met ons in verbinding vir meer inligting.)
  • Enige ander toegangsgelde en uitstappies wat jy op jou eie onderneem – volgens jou eie voorkeur
  • Die addisionele koste daaraan verbonde indien jy kies om jou sitplek vooraf te bespreek, soos bepaal deur die lugredery
  • Fooitjies en uitgawes van persoonlike aard
  • 95 stylvol ingerigte kajuite met moderne geriewe soos 'n Nespresso-masjien, platskerm-TV en individuele kluis
  • 8 enkelkajuite op die hoofdek (24 m²) en 87 dubbelbedkajuite (15 m²)
  • 'n Hoofarea waar jy heerlik kan eet en gesels, met pragtige uitsigte oor die rivier
  • Riverside Restaurant met buigsame etenstye
  • Moments Fynproewersrestaurant
  • VIVA's Bistro, wat 'n alternatief met meer klassieke disse vir aandete bied
  • Ingerigte gimnasium
  • Joga- en masseerarea
  • Swem-area op die sondek
  • Gratis huurfietse
  • 'n Hysbak tussen die verskillende vlakke
  • Verwelkomingsdrankie
  • Koffie en tee ná middagete
  • Gratis VIVA-waterbottel
  • Daaglikse opvul van die mini-kroeg in kajuit
  • Daaglikse kajuitdiens en vervanging van handdoeke
  • Vars beddegoed halfpad deur die week
  • Pantoffels en japonne beskikbaar op versoek
  • Swemhanddoeke
  • Portierdienste
Meer toere

Jy sal dalk ook hiervan hou

Alle toere
BKERS27 · p.p. wat deelOp aanvraag
Bespreek